‘n BIETJIE GELUK VIR MKHWANAZI?
- Chris Botha
- Sep 30
- 8 min read
By Chris Botha
Met rolbal, sò vertel my vriend Jack Collier, is daar drie dinge wat tel indien jy die spel wil wen. Jy moet jou bal op die regte lyn afstuur sodat die bal so sal draai dat dit die witte, jou teiken, sal bereik. Jy moet egter ook die bal die regte lengte laat rol anders gaan dit òf kort van die witte stop, òf verby die witte stop. Wanneer jou lyn en jou lengte reg is, sê Jack, het jy nog een probleem om te oorkom – jy moet ook geluk aan jou kant hê. Want, rol Jack voort in sy wysheid, al het jy lyn en lengte reg is daar altyd ‘n hele klomp ander veranderlikes wat jou bal kan ontspoor. Die lengte van die gras op die baan, die manier waarop die gras gesny is en die wind is maar ‘n paar van hierdie dinge.
Die dinge waarvoor die rolbalspeler geluk sal nodig hê.
Dis die geluk-ding van luitenant-generaal Nhlanhla (‘Lucky’) Mkhwanazi, provinsiale polisiekommisaris van KwaZulu-Natal (KZN), wat my pla terwyl ek hierdie stuk skryf. Met die bietjie wat ek van hom weet (ek was al met pensioen uit die Diens toe hy die eerste keer die nuus gehaal het – destyds toe heersende president Zuma hom as waarnemende nasionale polisiekommissaris aangestel het) lyk dit asof hy nogal tot dusver met lyn en lengte gepresenteer het in sy polisie-loopbaan. Dit vertel voormalige kollegas my uit wat hulle van hom weet by die polisie se Spesiale Taakmag, sy tyd as ‘n outonome en vreeslose (waarnemende) nasionale polisiekommissaris en sy innoverende en vreeslose tyd by die afdeling verantwoordelik vir menslike hulpbronontwikkeling voordat hy later KZN toe is. In die algemeen, en ten minste, kan skynbaar gesê word dat hy die polisie in KZN in navolging van nasionale wetgewing en onderworpe aan die gesag van die nasionale polisiekommissaris hanteer het, soos artikel 207 (4) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996, (die Grondwet, 1996) voorskryf.
Op Sondag 6 Julie 2025 het Mkhwanazi die wêreld erg omgekrap deur ernstige beweringe van pro-misdaadgedrag en inmenging te maak teen die minister van polisie, Senzo Mchunu, en ander persone beide binne polisiegeledere en daarbuite. Die hoofstroom- en sosiale media was onmiddellik aan’t gons. Die minister en luitenant-generaal Shadrach Sibiya, adjunk-nasionale kommissaris belas met misdaadopsporing, het bykans onmiddellik (ontkennend) gereageer. Vanuit die buiteland, waar hy tans ‘n BRICS-beraad bywoon, het die (gewoonlik langsamerhandige) president Ramaphosa ook gereageer. Nasionale polisiekommissaris Fannie Masemola het (soos gewoonlik) ‘n bietjie tyd nodig gehad. Met die skryf hiervan is die storie nog sterk verteenwoordig in die nuus asook in radio- en televisie-geselsprogramme.
Ek dink Mkhwanazi sal dit wat sy bynaam oor hom sê baie nodig hê in die tyd wat voorlê.
Oor die meriete van Mkhwanazi se beweringe kan ek nie kommentaar lewer nie. Selfs op die lange duur sal die realiteite van Suid-Afrika se politieke omwêreld, ‘n omwêreld van falsitas[i], dit steeds moeilik maak om agter die kap van die byl te kom. Selfs indien mens dit tog tot ‘n mate kan doen soos voormalige hoofregter Zondo gedoen het[ii] is daar steeds skynbaar ‘n minimale (of geen) moontlikheid dat die inligting ooit in ‘n Suid-Afrikaanse hof getoets sal word.
Ek kan ten beste skryf oor die goed wat vir my soos rooi ligte skyn, en my verder bekommer omdat daar alreeds oor hierdie goed geskryf is terwyl dit steeds in die oog van die besprekings voorkom. Met ander woorde, ten spyte daarvan dat hierdie goed op skrif kom, word daar niks aan gedoen nie. Soos met Zondo se verslag skryf ons vir ‘n gehoor wat, so voel dit vir my, vir ons lag en dan steeds doen wat hulle altyd doen. Waarskynlik met die een of ander etiket-whiskey in die hand terwyl ‘n lyfbediende die Bentley in die motorhuis gaan bêre … ‘n Gehoor by wie die waarheid, die volle waarheid en niks anders nie as die waarheid opgesluit lê in ‘n dokument wat die naam van Nasionale Demokratiese Revolusie (NDR) dra[iii] en nie die Grondwet, 1996, nie.
Ek dink aan ‘n ander generaal uit KZN. Johan Booysen is saam met sy manne van Cato Manor valslik beskuldig, verguis en gedryf tot op die rand van finansiële- en emosionele bankrotskap. Hiervoor het ondersoekende joernaliste Hofstatter, Wa Afrika en Rose pryse ontvang vir hul ‘ondersoekende joernalistiek’, wat hulle weer moes teruggee nadat hul vals rapportering uitgewys is[iv].
Tydens die uitspeel van die Booysen-geval het ek veral besef wat die krag van persepsie is, ‘n krag wat die vermoë het om as waarheid aanvaar te word. En ek het onthou van my geskiedenisonderwyser op skool wat aan ons vertel het van die sêding dat ‘n leuen, indien dit gereeld vertel word, die waarheid word. (Ek onthou ook dat dit geensins met sekerheid aan Goebbels, propagandahoof van die Duitse Nazi party, toegedig kon word nie. Wat is dus nou waarheid, uiteindelik?).
Ek hoor vir Mkhwanazi terwyl hy in die televisiekamera inkyk en sê dat sy nasionale kommissaris uitgesluit was in die gesprek tussen die minister en Sibiya. En ek onthou artikel 207 (2) van die Grondwet, 1996, wat sê die nasionale kommissaris van die polisiediens moet die diens beheer en bestuur aan die hand van die nasionale polisiëringsbeleid en aan die hand van die minister se leidinggewing. Nie die minister se inmenging en omseiling van die nasionale kommissaris nie. Die minister se werk is om daardie polisiëringsbeleid te bepaal in konsultasie met die provinsies, nie om dossiere te laat onttrek uit die provinsies nie.
Ek wonder hoe maklik die minister sou kon opwerp dat Mkhwanazi die vertroue verloor het van die provinsiale uitvoerende gesag, wat kan lei tot ‘appropriate proceedings’ - soos om Mkhwanazi in terme van artikel 207 (6) van die Grondwet, 1996, te ontslaan en hom dus effektief uit die polisie-wêreld te verwyder.
Ek lees weer Wiener[v] se weergawe van die lot wat Suid-Afrikaanse fluitjieblasers toeval (hulle verloor alles, altyd, selfs hul lewens) – en my bloed word yskoud toe ek onthou dat Babita Deokaran nà die publikasie van Wiener se boek vermoor is.
Ek onthou die bevindinge van ‘n navorsingsverslag oor die polisie en politiek in Suid-Afrika. Duidelik, in die taal waarin die navorsing gedoen is, staan daar dat “… policing in South Africa is unduly and adversely influenced by politics through the actions of politicians”[vi].
Ek sien voor my oë die vyfpunt-opsomming van Hills se navorsing oor die polisie en politiek in Afrika[vii]: regimes gryp (of kaap) gewoonlik die staat en sy bronne vir eksklusiewe eie gebruik; regeringsmag en –finansiële bronne word die elite se private regte wat as politieke beloning uitgedeel kan word aan sekere individue; menseregte word gesien as ‘n Westerse aangeleentheid wat tweede kom nà gemeenskaps- of groepgesentreerde belange; daar is anekdotiese bewyse vir belonings vir optrede wat onder sekere omstandighede genadeloos en nepotististies is en plundery toelaat; en, die polisie speel ‘n belangrike rol in die verhouding tussen die regime en die burgery, gedeeltelik omdat hulle die agent is vir beide die staat sowel as die gemeenskap.
Ek verstaan Mkhwanazi waar hy sê dat hy persone met kriminele neigings sal aanvat omdat dit sy werk is, wanneer hy praat van die beskerming van mense, van die diens-opgaaf van polisiëring en dat hy bereid is om te sterf vir die polisiekenteken.
Dit is wat die polisie doen.
Met my spesifieke siening van polisiëring as ‘n diens met (uitstekende) magsvaardighede, sou ek egter versigtig wees vir die skep van ‘n magsvertoon-persepsie. Daarom sou ek die aanwending van gewapende Spesiale Taakmag-tipe lyfwagte en kamoefleeruniform vermy. Dit is juis, vir my, die polisieuniform van gewone omgang met die gemeenskap wat as die ligtoring vir die beskikbaarheid en aanwendingsmoontlikhede van die polisie behoort te dien.
Maar dan is dit ook so dat Mkhwanazi opgelei en gebrei is om sy teenstander te verstaan, en sy ondersteuner te behou. Wat sê sy Spesiale Taakmaguniform vir sy teenstander(s), en wat sê dit vir sy ondersteuners? Moet die Diens weer ‘n Mag word omdat ons land deur staatskaping tot endemiese korrupsie verval het? Anders gestel, kan ons opnuut ‘n beklemtoning van ‘n militêre styl van polisiëring verwag om misdaad te hanteer? Of verwag Mkhwanazi iets wat beïnvloed word deur sy geleefde ervaring binne bepaalde kulturele parameters?
Mkhwanazi se stelling oor die dood laat my egter ook onwillekeurig dink aan ‘n paar woorde uit ‘n ietwat ander konteks wat op ‘n spesifieke tyd van my lewe ‘n groot indruk op my gemaak het. Hierdie paar woorde was “…it is an ideal for which I am prepared to die”[viii].
Dit mag dalk wees dat Mkhwanazi sy lyn en sy lengte reg het. Daar is egter veranderlikes op die baan waarop hy nou speel. Daar is mag, ego, toorn, ontkenning, falsitas, Stalingrad-opsies en leuens. Daar is ‘n meerderwaardige politieke elite wat nie hul gestelde beleid van ‘demokratiese sentralisme’ as ‘n oksimoron sien nie, en wat verkies om skryfsels op rakke te sien waar dit stof kan vergaar sodat die ongebreidelde aard van staatskaping presies kan voortgaan soos beplan. Op hierdie baan wag daar op hom ‘n stelsel wat ontslae raak van teenkanting, selfs deur die neem van ‘n lewe, terwyl daar in die openbaar vir die toeskouers se onthalwe gepraat word van mense se demokratiese regte – deur ‘n dominante politieke teenstander wat letterlik alles in die stryd sal werp om die mag te behou. Omdat daar ‘n NDR op hierdie baan is, sal die dominante politieke elite hul nie steur aan die grondwetlike verdeling van gesag en mag tussen die minister in die polisiëringsomgewing, en die nasionale kommissaris van polisie nie. Absolute mag deur die politieke ampsbekleders is die enigste teiken wat hierdie elite het. Daarom is dit belangrik vir die politieke rolspelers om op onbehoorlike en ongunstige wyse in te meng met die polisie, wat hulle eiendom word en deur wie hulle in die saal en uit moeilikheid gehou word.
Dalk is dit juis vir ‘n tyd soos hierdie wat Mkhwanazi op die baan moet wees – hy verstaan moontlik die Afrika epistemologie baie goed.
Ek maak gevolglik nie uitsprake nie. Maar ek dink, indien ek die bogenoemde teen mekaar opweeg, dat Mkhwanazi se lyn en lengte dalk beter is, dalk meer konsekwent by die teiken uitkom, as die van die ANC en al sy meelopers. Inteendeel, ek dink die ANC het nog geensins, met enigiets, by enige teiken van goeie bestuurskunde en leierskap uitgekom nie. Maar dat die ANC baie geluk aan sy kant het om te wees waar hy selfs nou nog is, is gewis.
Ek hoop Mkhwanazi se bynaam het nog dieselfde krag as toe hy dit gekry het…
oOo
Bronne:
Botha, C.J. (2020). Politics and Policing in South Africa: A Knowledge Leadership inquiry. Unpublished MPhil (PPL) minor dissertation: University of Johannesburg.
Botha, C.J. (2021). OPINION: South African Policing Professionalism in 2021: A history of falsitas (Quis custodiet ipsos custodes?). Just Africa 6 (1), pp 60-72.
Botha, C. (2023). Police Conflict Management in South Africa: An Autoethnographic Reconnaissance. In: Staller, M.S., Koerner, S., Zaiser, B. (eds) Police Conflict Management, Volume1. Palgrave Macmillan, Cham.
Duvenhage, A, (2024). Die fundamentele hervorming van die Suid-Afrikaanse staat – motivering en strategie. LitNet Akademies, 21 (1), pp 320-355.
Haffajee, F. (2022). Days of Zondo: The Fight for Freedom from Corruption. Johannesburg: MAVERICK 451.
Holden, P. (2023). Zondo at your Fingertips: The definitive guide to the Zondo Report. Auckland Park, South Africa: Jacana Media.
Mandela, N. (1995). Long walk to freedom. London: Abacus.
Wiener, M. (2020). The whistleblowers. Northlands, South Africa: Pan Macmillan.
(Hartenbos, 7 Julie 2025)
[i] Botha (2021)
[ii] Sien, onder andere, die uiteensettings in Haffajee (2022) en Holden (2023)
[iii] Sien Duvenage (2024)
[iv] Botha (2021, p 65)
[v] Wiener (2020)
[vi] Botha (2020, p iv)
[vii] Botha (2023, p 392)
[viii] Geneem uit Mandela (1995, p 438)
Comments